Donald Trump vernietig sy voorsprong

’n Voormalige verslaggewer van die “Washington Post” in Amerika, Serge Kovaleski, wat ly aan kroniese spierdisleksie, is deur Donald Trump bespot oor sy toestand, en kan hom duur te staan kom as voorloper kandidaat van die Republikeine in die presidentsverkiesing.

Die uitwerking van die verslaggewer se siektetoestand is sodanig dat dit hom ’n beperkte vermoë bied om sy arms te gebruik.

Die aangeleentheid het ’n herrie laat ontstaan in koerante en in die sosiale media, terwyl verskeie petisies opgestel is wat vra dat Trump sy verskoning moet aanbied.

Een groep se petisie eis dat hy geskors word as kandidaat van die Republikeine, terwyl ander meen die Amerikaanse kiesers sal hulle afkeer toon deur hul ondersteuning te onttrek.

Kenners meen die optrede van Trump, wat op video vasgevang en wêreldwyd versprei is, kan Trump se kanse om president te word, finaal kelder.

Op die sosiale netwerke word die video vertoon, en die vraag gevra: “Wil jy so ’n persoon hê as president van die VSA?”

Trump het geweier om enige verskonings aan te bied en het in sy verweer gesê die man se swak werk as verslaggewer en sy optrede tydens die September aanval op die Wêreld Handelsentrum in die VSA is die middelpunt van die saak, en nie die persoon nie.