Curro-hoof oor Christelikheid aangekla

Die skoolhoof van ‘n Curroskool in Bloemfontein is geskok dat daar vinger na hom gewys word dat hy te Christelik is en sy geloof op kinders wil afdwing.
Willie Havenga het met skok van hierdie beskuldiging kennis geneem. Hy sê hoewel nie al die leerlinge Christene is nie, word hulle nie gedwing om aan Christelike bedrywighede mee te doen nie.
Hy word ook deur Christelike onderwysers bygestaan en sê hy leef vir die skool.
Curro se streekhoof, Shawn Thompson, sê die skool se standpunt oor geloof word duidelik in die skool se gedragskode uiteengesit.
Die gedragskode bepaal dat wanneer ouers van ander geloofsoortuigings hul kinders hier inskryf, hulle verwittig word dat alles wat hier gebeur binne ’n struktuur van Christelike etos plaasvind, dat daar gereeld uit die Bybel gelees en gebid word en dat leerlinge en onderwysers oor hul geloof as Christene praat, het sy gesê.
By Curro beteken “Christelike etos” ’n struktuur bestaande uit Christelike waardes en respek vir ander gelowe, sê Havenga.