Brussels verlaag veiligheidsvlak

Brussels se verlaging van sy veiligheidsvlakke kan katastrofiese gevolge inhou aangesien dit moontlik is dat die terroriste juis daarop wag en hoop dat die owerhede nog meer gerus sal word.

Dit is die mening van ’n politieke ontleder nadat berig ontvang is dat die Belgiese hoofstad sy veiligheid na een vlak laer aangepas het.

Met die daling na vlak 3 kan dit ’n gevaar inhou dat skole en ander bymekaarkomplekke as teikens gebruik kan word om terreur te skep en paniek in Europa te verhoog.

Sedert Saterdag is Brussels op ’n maksimum hoë gereedheidsvlak nadat verskeie dreigemente ontvang is van ’n moontlike terroriste-aanval.

Kenners wys daarop dat die owerheid in Brussels liefs nie moet bekend maak dat die veiligheid na vlak 3 verlaag is nie aangesien dit terroriste help in hulle moontlike beplanning van ’n aanval.

Paraatheid by skole en metro-vervoerdienste word verminder, maar patrollie word deurlopend gedoen by sleutelpunte, het ’n woordvoerder gesê.