Bom het Russiese vliegtuig laat val

Die ondersoek na redes waarom die Russiese vliegtuig geval het in die Sinai woestyn is deur een ondersoeker uitgewys as ’n bomontploffing.

Die anonieme ondersoeker beweer dat die “swart kassie” se gegewens daarop dui dat dit ’n bom is wat in die vliegtuig ontplof het.

’n Koerant in Rusland meld dat alle sisteme van die vliegtuig in goeie werkende toestand was tydens die vlug en dat die “swart kassie” dit duidelik uitwys.

Die vliegtuig word deur die loots op outomaties oorgeskakel kort nadat dit opgestyg het om dan ook outomaties te styg tot op die verlangde hoogte, en geen spoor van enige foute is in die kassie gevind nie.

Alhoewel die gegewens reeds deur ondersoekers bepaal is, word die redes nog nie vrygestel nie en wil die ondersoekers seker maak dat die ontploffing wel die oorsaak is van die ongeluk waarin 224 mense omgekom het.

Dit wil op hierdie stadium lyk asof die bom moontlik deur terroriste van die Islamitiese Staat (IS) in die vliegtuig geplaas is toe dit in Egipte gereed gemaak het om op t styg.

Die gebeure het Rusland laat besluit om alle vlugte na Egipte op te skort aangesien dit duidelik is dat die Egiptiese regering nie beheer het oor wat by sy lughawe gebeur nie.

Bevestiging vir die ondersoekers se bevindinge kan egter eers oor ’n paar maande verwag word, maar intussen het verskeie lande besluit om Egipte te vermy.

Pres. Vladimir Poetin van Rusland het beveel dat die sowat 80,000 Russe wat tans in Egipte is, onder die waaksame oog van militariste, onverwyld terugkeer na Rusland.

Hy het die afgelope naweek sowat 45 leë vliegtuie na Egipte gestuur om die Russiese burgers na Rusland terug te bring.

Kenners wys daarop dat die weerwraak van IS magte op onskuldige mense van Rusland, ’n bewys is dat Rusland wel suksesvolle lugaanvalle uitgevoer het op basisse van die terroriste.

Dit VSA se bewering dat die Russe nie teen IS optree nie, is daarmee verkeerd bewys, word gesê.