Boere help SAP om misdaad te bekamp

Boere moet nie net die land van voedsel voorsien nie en hulle eie planne maak om in die droogte sonder regeringshulp te oorleef nie, hulle help nou die polisie ook om hulle werk te kan doen.
Afrforum se woordvoerder, Ernst Roets sê wanneer die boere saam met die polisie werk, word groter sukses behaal. 
Johan Burger, senior navorser aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê aanvallers beplan deeglik voordat hulle toeslaan.
Hy sê hulle hou die bure lank dop, kruip op die plase weg om die boere se roetine te volg. Hulle trek ook inligting uit die plaaswerkers uit.
In ’n verklaring wat Vrystaat Landbou (VL) uitgereik het, het landbouers en die polisie in die Lejweleputswa-distrik (noordwestelike deel van die Vrystaat) in Oktober vanjaar ’n samewerkingsooreenkoms onderteken waarin bevestig word dat veiligheid in dié landbougemeenskap ’n prioriteit sal wees.
Dit het daartoe gelei dat talle onwettige immigrante wat in die omgewing rondbeweeg het, aangekeer is, gesteelde vee is gevind en gesteelde items is teruggevind.
Dié distrik hou jaarliks twee plaasaanval-oefensessies sodat almal kan oefen wat om te doen tydens ’n werklike insident.