Amerika vernietig IS vragmotors

Vegvliegtuie van die Amerikaanse Lugmag het bomme gegooi op ’n hele aantal vragmotors wat deur die Islamitiese Staat (IS) gebruik word om olie te vervoer.

Die vragmotors word gebruik in die smokkelhandel met olie waarmee die terroriste miljoene Amerikaanse dollar elke maand verdien

Volgens ’n Amerikaanse woordvoerder is minstens 116 vragmotors verwoes in een van die hewigste bomaanvalle wat tot nou deur die VSA uitgevoer is op IS-terroriste.

Die aanvalle is Dinsdag uitgevoer in die omgewing van Deir al-Zour, in die ooste van Sirie, en word beskou as ’n gevoelige nekslag vir die terroriste.

Vier vegvliegtuie van die VSA het deelgeneem aan die aanval waarin talle IS werkers ook omgekom het.

Amerika het sy strategie glo aangepas en besluit om IS se oliebronne te vernietig en die vervoer van olie te stop, wat meebring dat die terroriste se inkomstebron vernietig word.

Die vermoede bestaan dat IS oor sowat 1,000 tenkwaens beskik waarmee die olie vervoer word.

Die Amerikaanse aanvalle volg ’n dag nadat die Franse Lugmag met minstens 12 vliegtuie, ’n vernietigende aanval uitgevoer het op die IS terroriste se selfverklaarde hoofstad, Raqqa, in Sirië.

Tydens die aanval het die Franse minstens 10 bomme neergegooi en ondermeer ’n opleidingsentrum, asook ’n basiskamp verwoes.