Wees-renostertjie dink motor is sy ma

Kort op die hakke van die berig dat die stryd om die beskerming van renosters in Suid-Afrika verloor word, kom die berig van die tweemaande-oue renostertjie wat wees gelaat is, toe sy ma deur wilddiewe gestroop is.

Die foto is in die Kruger Wildtuin geneem toe hy homself teen ‘n grys motor begin skuur het. Wildbewaarders sê dat in die afwesigheid van sy ma, sal ‘n kleintjie alles doen om ‘n aanneemma in die hande te kry.

Die kleintjie, gedoop Donnie, is deur ‘n veearts verdoof om hom na ‘n reservaat in Oos-Transvaal te neem waar hy verder versorg kan word. Verdere drama het gevolg toe hy binne minute ‘n hartstilstand gehad het.

Die vliegtuig moes noodgedwonge ‘n noodlanding doen sodat die renostertjie eers gestabiliseer kon word.

Gelukkig het alles goed uitgedraai en hy is gelukkig in sy nuwe tuiste.