Toep help vrou haar handsak vind

‘n Toep (App) wat op haar selfoon was het ‘n vrou gehelp om binne twee uur haar handsak met alles wat binne-in was, terug te kry.

Surè van Zyl van Ellisras het haar handsak in haar motor gelos terwyl sy vinnig in ’n winkel in is. Toe sy ’n paar minute later uitkom, was haar handsak weg. Sy sê dit het gelyk asof iemand met die motor se afstandbeheer gepeuter het.

‘n Vrou het haar selfoon vir Van Zyl geleen om haar tannie, Da-Ina du Randt te bel wat ‘n toep gebruik het om die selfoon op te spoor. Die foon is in Marken, 74 km van Ellisras, opgespoor.

Die verkeerspolisie is in kennis gestel om op die uitkyk vir die pienk selfoon te wees. ‘n Petroljoggie het ‘n man gesien wat omstanders by ‘n taxiplek R1,500 aangebied het om hom dringend na Potgietersrus te neem.

Die joggie het onraad vermoed en die man gekonfronteer, waarop dié hom weer met ‘n mes gekonfronteer het. Die mes was in Van Zyl se handsak gewees.

Maar eind goed, als goed.

Die omstanders het die dief bietjie oor-entoesiasties ondervra, sodat hy steke moes ontvang. Hy is deur die polisie in hegtenis geneem en Van Zyl het haar handsak en die inhoud daarvan terug.