Swemmer se suster veg teen kanker

Die beroemde Suid-Afrikaanse swemmer, Ryk Neethling, se familie het ‘n groot skok gekry toe kanker verlede week vir die derde keer in 21 jaar by sy suster Elsje gediagnoseer is.

Hoewel sy geskok is, is sy ook gereed om hierdie keer weer die geveg voort te sit. Sy sê sy kry haar ouers baie jammer vir al die smart waardeur haar siekte hulle al gesit het, het Elsje gesê.

Sy was slegs 13 jaar oud toe sy die eerste keer met breinkanker gediagnoseer is. Ses jaar later was sy in remissie, maar 11 jaar daarna, drie maande voordat sy met die prokureur Bruce Blair getroud is, het die kanker weer toegeslaan.

Na ‘n reeks behandelings en vyf ruggraatoperasies was die kanker weer in remissie, maar haar huwelik op die rotse.

Die behandeling het haar sodanig beskadig dat sy met moeite loop. Die afgelope tyd het sy weer begin swem om haar bene sterker te maak.

Sy word eerskomende Woensdag geopereer om die gewas op die brein te verwyder.