Staatsveeartse stuit diereslagting

Staatsveeartse wil die besluit van die Wes-Kaapse Departement van Landbou omkeer om al die vee op ‘n boer se plaas te slag.

Die boer, Appie Viviers se plaas is reeds ses maande lank onder kwarantyn nadat brusellose by sy vrou, Marietjie, een van sy plaaswerkers, Ma­rius Pettiner, en sy Rhodesiese rifrughond, Soetlief, gediagnoseer is.

Die departement het besluit dat al Viviers se vee, 900 bokke en 300 beeste geslag moet word, maar Beaufort-Wes se staatsveearts, dr. Jaco Pienaar, sê hulle het die proses tydelik uitgestel gekry. Volgens hom is die risiko eintlik nou baie klein. Hulle dink die situasie is onder beheer en hulle wil niemand paniekerig maak nie, het hy gesê.

Boonop lam die bokke nou en baie het reeds lammers. Niemand anders het nog siek geword nie en die veeartse wil die saak nog vier maande kans gee. Veeartse spook steeds in die laboratorium om te bepaal watter tipe brusellose die diere het.

Die departement hou egter vol dat die diere geslag moet word.