Skors De Lille oor sokkertoernooi

Kort op die hakke van Anton Groenewald se bedanking as uitvoerende direkteur van toerisme, spesiale gebeure en bemarking, vra opposisielede nou dat Patricia de Lille tydelik as burgemeester geskors moet word, hangende ‘n ondersoek na die mislukte Kaapstad Beker-sokkertoernooi.
Hoewel in Groenewald se bedanking gesien kan word dat hy die volle verantwoordelikheid vir die mislukking aanvaar, sê opposisie lede dat hulle inligting het wat daarop dui dat De Lille aangedring het dat die toernooi moet voortgaan, ongeag die duidelike tekens dat dit op ’n ramp afstuur.
Cosatu vra dat die Openbare Beskermer (OB) die bedrag van R30 miljoen wat aan die toernooi bestee is, moet ondersoek.
Garreth Bloor, burgemeesterskomiteelid vir toerisme, spesiale gebeure en ekonomiese ontwikkeling, het oor die inkomste uit die kaartjieverkope gesê al die finale state en berekenings van die inkomste en die uitgawes moet eers geoudit word voordat syfers amptelik bekend gemaak kan word.
’n Staat van uitgawes en inkomste moet deur Ajax Kaapstad, wat as organiseerder van die toernooi gekontrakteer is, verskaf word. Die proses kan nog ‘n verdere twee maande duur.
Die enigste kommentaar deur De Lille het van haar woordvoerder, Perinne Leukes gekom wat gesê het hulle sal hulle volle samerwerking aan die OB gee. Foto: Patricia de Lille