Seuntjie kon nie gered word

’n Vyfjarige seuntjie van Durban het sy lewe verloor nadat hy in die swembad beland het en paramedici nie daarin kon slaag om hom betyds te probeer help nie.

Die woordvoerder van Netcare 911 sê die voorval het by die mense se huis in Bellair gebeur, maar dit is nie duidelik hoe hy in die water gekom het nie.

Nadat ’n buurman op die toneel afgekom het, is paramedici en die reddings-eenheid gevra om te help, maar hulle kon nie die seuntjie se lewe red nie.

Eers het die buurman probeer om die kind te red deur kunsmatige asemhaling toe te pas terwyl paramedici onderweg was, waarna die medici oorgeneem het en gepoog het om met behulp van ’n ventilator die kind te help.

Nadat paramedici vir sowat een uur probeer het om die seuntjie te red, is hy op die toneel dood verklaar.

Die ouers het versoek dat hulle name nie bekend gemaak moet word nie.

Dit is die soveelste kind wat vanjaar omgekom het in ’n swembad, wat die vraag na vore bring wanneer gaan daar strenger wetgewing kom oor swembad-regulasies by private woonhuise.