Pretoria straatname moet herstel word

In die geveg om straatname van Pretoria te behou, het die Metroraad van Pretoria ’n gevoelige slag gekry toe die Appelhof in Bloemfontein beslis het dat die name herstel moet word en terug geplaas moet word.

Die Metroraad het ’n aansoek na die appèlhof in Bloemfontein gebring om verlof tot appèl te kry, maar die aansoek is met koste van die hand gewys.

Die Appelhof het bevind dat die Metroraad nie daarin kon slaag om aan te toon dat daar wel gronde vir sodanige appèl bestaan nie.

Die bevinding volg nadat vroeër vanjaar beveel is dat die ou straatnaamborde saam met die nuwes vertoon moet word, maar wat deur die Metroraad geïgnoreer is.

Die stryd gaan oor ’n lang tyd om te bepaal wat die status is van die 25 straatname wat deur die Metroraad vervang is met nuwe name.

Daarna het die Metroraad die ou naamborde verwyder wat gelei het tot ’n hofsaak waarin bevind is dat die ou name saam met die nuwes vertoon moet word.

In April 2013 het regter Bill Prinsloo ’n dringende interdik verleen om die Metroraad te verbied om voort te gaan met die verwydering van ou straatname se bordjies.

Die Metroraad het die hof geïgnoreer en voort gegaan met die naamsveranderinge.

Waarnemers meen die Metroraad het vir hulleself ernstige probleme geskep, want die ou naamborde is glo weggegooi, wat beteken dat die naamborde dalk ten duurste gemaak en opgerig moet word.

Dit kan die Metroraad maande se harde werk kos, en boonop met die finansiële verlies sit van naamborde, arbeid om dit weer op te rig, en hofkoste.

Alles natuurlik uit die belastingbetalers se sak.