Op die Volksakker – Feesdae roep ons tot introspeksie en hernieude daadkrag

Eergister, 9 Augustus – Vrouedag: ons volk het geen gemene grond met die moderne grondslag of inhoud van ´n feministiese agenda nie, maar as Christen-volk heg ons sekerlik ´n buitengewoon hoë waarde aan ons volk se vroue.

Die vrou, geskape as hulp, maar wat in haar rol as eggenote en moeder sonder twyfel die spreekwoordelike gom is wat gesinne bymekaarhou, hegte bande bou.

En dit is gesonde gesinne wat ´n gesonde volk bou.

En wanneer GRA-dag eersdaags herdenk word, is dit belangrik om te onthou dat kinders aan moedersknie so baie van hulle identiteit leer – taal, maar ook die geloof en daadkrag wat uit geloof voortvloei.

Daardie daadkrag wat ons volks-gesinne kon staande hou op die trekpad, deur jare van smart, maar ook jare van opbou.

Die daadkrag wat vroue staande gehou het deur ´n berekende volksmoord in Engelse doodskampe.

In hierdie lewe is die roeping van moederskap die grootste seën van ´n volk, want waar gelowige, voorbeeldige moeders hul kinders begelei van wieg tot volwassenheid, word ´n volk gebou wat sy wortels, sy geloof en sy roeping getrou sal bewaar.

Daardie moederskap wat so eie is aan menige Christenvolk, wat ook ons volk gedra het deur jare, dekades en eeue: sommige jare van voorspoed, baie jare van opoffering.

Die moederskap wat ons kinders ´n trots vir die eertydse “kombuistaal” geleer het, die kombuistaal wat in die twintigste eeu hoogtepunte bereik het wat vandag ten kwade verswyg, selfs onregmatig vir ander toegeëien word.

In hierdie herinneringe is daar ook die hartseer waarskuwing: met reg moet ons vra hoeveel van die verval op ons volksakker kan verduidelik word deur juis misleiding van die feminisme wat die wêreld die afgelope naweek gevier het.

Ons moet ook op 14 Augustus onthou dat Afrikaans maar een element van ons volksidentiteit is, en om op taalgronde ´n ondeurdagte eenheids-strewe te bou, soos elemente uit ons samelewing ons probeer wysmaak, gaan ons volk bloot verder vervreem van ons identiteit.

Uiteindelik behoort ons onsself te vra of ons die daadkrag het van ons volksmoeders, of ons eerder kaalvoet (en kaalvuis) die stryd om volksbehoud sal voortsit, as om geriefs-kompromisse aan te gaan vir eiebelang, ten koste van ons opkomende geslagte?