Nuwe parlementêre wagte kry groot geld

Die aanstelling van 22 oud-polisielede as parlementêre veiligheidsbeamptes word deur Nehawa, die vakbond wat meer as twee derdes van parlementêre werkers verteenwoordig, bevraagteken.

Die groot klagte is dat talle veiligheidswerkers wat jare diens het, oor die kop gesien is toe hierdie aanstellings gemaak is. Hulle is nie eers die kans gegee om vir die nuwe poste aansoek te doen nie.

Skynbaar is die polisielede twee weke gelede na die parlement gesekondeer. Hulle het daarna uit die polisie bedank en is in hulle nuwe poste aangestel. Die posvlak waarop hulle aangestel is, is posvlak B3, met ‘n jaarlikse salaris van R387,000.

Die vraag word gevra hoe kan dit gebeur dat rekrute meer betaal word as mense wat tussen 10 en 20 jaar diens in die parlement het.

Soos gewoonlik het die parlement nie vrae beantwoord nie. Die parlement se beleid maak dit duidelik dat posisies vir posvlakke B3 en hoër intern én ekstern adverteer moet word. 

Die speaker, Baleka Mbete, het die afgelope week bevestig dat dienende polisiebeamptes gewerf is om die kapasiteit van die parlementêre beskermingseenheid te versterk.