Goudstad ondergaan metamorfose

Johannesburg, die stad wat deur menige buitelander besing was as die plek wat met goue strate en rondloper leeus die wêreld bekoor het, gaan nou ‘n trappie verder en het glo begin met opgradering ten bedrae van sowat R110 miljard.
’n Omvattende projek van opgradering van infrastruktuur deur die stad se Padagentskap het gister begin.

Die projek behels ondermeer die algehele opgradering van die stormwaterstelsel, die verbetering in brûe, verkeersligte, padtekens, voetganger-paaie, en talle ander noodsaaklike werke.

Al die werk moet in die volgende agt jaar gedoen word regdeur die stad, om in 2023 afgehandel te wees.

Christine Walters, die burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het gevra dat die Johannesburgers tog maar geduldig moet wees met die enorme werk wat aangepak word.

In die opgradering is ook beplanning om enige grondpaaie wat in sekere gebiede is, reg te maak en van ’n teerblad te voorsien.

Kenners meen die stadsraad kon reeds 20 jaar gelede begin het om die infrastruktuur in stand te hou, dan was die huidige begroting nie nodig nie.

Dit is bekend dat die Goudstad se infrastruktuur, veral in die middestad, in totale verval is terwyl stormwater- en rioolstelsels in die stad veel te wense oorlaat.