Ekonome se siening oor SA-probleme

Krag en kragtariewe skep ekonomiese onsekerheid, sê Elna Moolman, ekonoom van Macquarie Securities. Afgesien van die ontwrigting wat met beurtkrag gepaard gaan, het die styging in kragtariewe ook ‘n negatiewe effek op die mededingendheid van ondernemings

Indien die regering dit werklik ernstig bedoel sal hulle nou alles in hulle vermoë moet doen om Eskom te help om nuwe kragstasies te bou.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za sê die regering skiet homself in die voet om wette in te stel wat die lewe moeiliker, pleks van makliker maak.

Dit moet makliker wees om sake te doen en visumregulasies moes dit vir mense moontlik gemaak het om makliker na Suid-Afrika te kom, nie moeiliker nie. 

Die regering wil alles beheer wat ‘n burokratiese ooraanbod tot gevolg het, sê Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe.

Die regering moet terugstaan en die private sektor toe te laat om voort te gaan met dit wat hy nog altyd gedoen het, naamlik om die ekonomie te laat groei en werk te skep.

Die gebrekkige opleiding oor die afgelope 20 jaar moet nou omgeswaai word, meen ‘n onafhanklike ekonoom, Ulrich Joubert.

Die onderwys-en-opleidingstelsel moet ernstig aandag kry sodat dit beter gehalte en markgerigte uitsette lewer. Met die opleiding van die afgelope 20 jaar het die mark nou sy groeipotensiaal bereik. Hy stel voor dat die jeug vaardighede leer sodat hulle makliker in diens geneem kan word of selfstandig vir hulleself kan werk.