Broers beskerm ma teen aanvallers

Toe die skurke toeslaan op die huis waarin ’n 80 jarige dame woon, het die twee broers nie gehuiwer om hulle eie lewens in gevaar te stel om hulle ma te beskerm nie.

Die twee broers, een 48 jaar en die ander 52, het ernstige wonde opgedoen tydens die voorval, en die oudste broer verkeer in ’n ernstige toestand in die hospitaal waar daar glo vir sy lewe gevrees word.

Die man is in die maag geskiet deur die twee rowers wat omstreeks 3 uur die oggend op hulle toegeslaan het.

Die familie wat in ’n veiligheid-kompleks in Brentwood Park, Benoni, woon, is erg getraumatiseer deur die voorval aangesien niemand verwag dat aanvalle in ’n veiligheids-kompleks sal plaasvind nie.

Die twee mans het die skurke kaalvuis getakel, maar is albei in die proses geskiet, waarna die skurke die dame se handsak gegryp en op die vlug geslaan het.

Die familie wat verkies om anoniem te bly, sê dit is ’n wonderwerk dat hulle nie al drie gedood is in die aanval nie.

Blykbaar was daar voorheen ’n mislukte poging om by die woonhuis in te breek, wat die sekuriteit by die toegangspunt bevraagteken.

Die aanvallers klim in bome en spring dan oor die hek, beweer sommige inwoners.