Brandstof tekorte kan nog dae duur

Die ernstige tekort aan brandstof wat veral in Johannesburg ondervind word, kan blykbaar nog dae lank duur weens instandhoudingswerk wat by die raffineerders in Durban gedoen word.

Volgens berigte word die instandhouding, wat jaarliks gedurende Augustus gedoen word, nog vir etlike dae gedoen, waarna aflewering weer normaal sal voortgaan.

Talle vulstasies in Sentraal Transvaal het geen brandstof nie, tot frustrasie van die eienaars en motoriste wat rond skarrel om brandstof te kry.

Ingeligte waarnemers sê die probleme by SAPREF, ’is die hoof-oorsaak waarom ’n tekort ondervind word.

SAPREF is ’n onderneming van die Shell en BP.

’n Woordvoerder van die instansie sê dit is nie duidelik hoe lank die tekort sal duur nie, en die moontlikheid bestaan dat aflewerings eers later vandeesweek kan begin as alles volgens plan verloop.

Dit is nie bekend watter probleme ondervind word nie, maar die moontlikheid is nie uitgesluit dat die tekort nog die hele week kan duur nie.

Intussen is motoriste wat gewoonlik van BP en Shell gebruik maak, aangewese op ander vulstasies wat sukkel om voor te bly met die voorsiening van brandstof weens die groter aanvraag.