Winterspele skop af

Die jaarlikse Winterspele van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) vind plaas vanaf Donderdag 25 Junie tot Saterdag 27 Junie.

Die spele word aangebied op die terrein van CVO Gromar op Groblersdal, met Oos-Transvaal as gasheer.

Nagenoeg ‘n duisend leerlinge vanoor die hele Suid-Afrika sal hul verskillende provinsies in rugby en netbal verteenwoordig.

Vanjaar se Winterspele val ook saam met die 21ste herdenking van die bestaan van die BCVO. ‘n Groot makietie word beplan vir Donderdagaand, waartydens die direksie van die BCVO alle ouers gaan trakteer met ‘n gratis skaapbraai.

Vir Vrydagaand bied Gromar ‘n opelug musiekfees aan met Die Koffiesnobs wat ‘n voorvertoning lewer vir die immer gewilde Bobby van Jaarsveld. Die Groblersdal pos van die Verkennersbeweging sal ook op die aand ‘n á la carte-restaurant vir al die hongeriges bied.

Daar word verwag dat sowat 4 000 mense vir hierdie geleentheid op Groblersdal gaan toesak. Gatehuise in die omgewing berig dat daar nie meer plek vir ‘n muis is nie.

Gromar nooi alle Vryburger-lesers uit om ‘n draai te kom maak, goeie skolesport te kom geniet en Bosveld gasvryheid te kom beleef.