Vir die dames – Wildestokroos / Hibiscus diversifolius / Kaapse hibiscus

Hibiscus diversifolius word ook “Swamp Hibiscus” genoem, sekerlik omdat hierdie plant van ‘n nat plekkie in die tuin sal hou. Dit is maar een van ongeveer 50 lede van hierdie spesie wat in Suid Afrika voorkom. Hibiscus is die Griekse naam vir malva. Hulle is in die familie Malvaceae. Hierdie plant is hoofsaaklik van die malva en katoenfamilie.

Hierdie plant kom wydverspreid voor, veral in die nat Kaapse kusgebiede. Dit kom ook in die tropiese gebiede van Afrika, die Fillipyne, Sentraal en Suid Amerika, New Zealand en Queensland in Australië voor. Volgens bronne is hierdie plant oorspronklik van Afrika maar het na die ander kontinente versprei deur langafstand soutwatervloei.

Die wildestokroos is baie maklik om te kweek en versprei baie maklik. Die spesifieke naam diversifolius beskryf die veranderlike blaarvorm wat van amper rond tot vyflobbig wissel. Die wildestokroos word 3 tot 10 meter hoog en kan tot 6 meter sprei. Dit vorm ‘n groot klimstruik of klein boompie. Hierdie plant het lang, stekelrige takke en donkergroen blare met duidelike are wat bedek is met growwe hare aan die onderkant. Wees maar versigtig, want aan die onderkant van die blaarstele het dit kort, skerp stekels.

Wildestokroos dra groot suurlemoengeel blomme wat tot 80 mm in deursnee word en kom aan die boonste deel van die stingels voor. Dit het diep maroen harte en vertoon soos ‘n Hibiscus of ‘n enkelblom stokroos. Die blomme het ook kort ligbruin meeldrade wat in trossies eindig.

Hisbiscus diversifolius hou van ‘n rypvrae omgewing, volson, goeie kompos, en effense suur leemgrond. Hulle hou ook van volop water reg deur die jaar, veral in die warm somers. Hierdie plante het ‘n lang blomtyd en in Oktober sal dit gewoonlik oortrek wees van die blomme. Hulle blom gemiddeld van Julie tot Februarie. Dit dien ook as ‘n heiningplant maar sal floreer langs ‘n waterlopie of dammetjie in u tuin. Wanneer hierdie plante blom, lewer hulle ‘n treffende vertoning saam met ander plante.

Hulle kan met saad voortgeplant word en die vars saad behoort binne 30 dae te ontkiem. Ons kan ook stingelsteggies in die herfs of vroegsomer maak en die beste is om hierdie steggies in growwe riviersand en fyngemaalde bas in in ‘n kweekhuis met newelbesproeiing te plaas. Dit behoort dan binne 2 tot 3 weke wortel te skiet. Die wildestokroos het ‘n lang leeftyd en word baie selde deur siektes en plae gepla. Dit lok skoenlappers na ons tuine.

Tuiniers, onthou die rypdoek hierdie tyd van die jaar. Maak maar liewer die sensitiewe plante soos die halfmense, koedoelelies en sommige bome vroegtydig toe sodat u plante nie rypskade kry nie.