Vir die dames – Duineboegoe / Acmadenia obtusata

Duineboegoe is ‘n genus van 33 spesies wat oorspronklik in die Wes- en Oos Kaap voorkom. Dit is ‘n struik wat in die lente en vroegsomer blom. Duineboegoe is ‘n regop struik en blom oorvloedig en die blomme is baie aromaties en pienk.  Dit is in die Rutaceae familie, wat soos sitrusse is, en daarom vorm daar ‘n olie op die blaartjies van die plant wat die heerlike geur vrystel.

Hierdie plant het ‘n sterk enkelstam en bereik die hoogte tussen 0.3 tot 1 meter afhangende van die omgewing en die weersomstandighede. Die blaartjies wat dig op die takkies van die struik voorkom, is naaldagtig en lyk in ‘n mate soos roosmarynblaartjies. Dit is immergroen. Die blommetjies is stervormig en kom op kort stingeltjies naby die punte van die takke te voorskyn. Blommetjies is ook enkel ronde blaartjies met puntjies voor. Dit is klein en het 5 blaartjies wat 10 mm in deursnee is. Hulle kom in groepies voor en soms ook net een enkele blommetjie aan ‘n takkie. Maar hulle is pragtig en blom baie welig en vertoon ook baie dig opmekaar. Soms dra van hierdie plante wit blomme, maar die pienk blommetjies is die mees algemeenste.

Na die blomtyd vorm dit groen saad en dit word donkerder soos wat die kapsule ryper word en dan vanself die sade vrystel. Elke kapsule het 5 ‘kamers’ en dra een swart blink saadjie per ‘kamer’.

Hierdie plante kom natuurlik voor waar berg fynbos groei veral in die duine en kalksteen berge van Bredasdorp, Gourits Rivier en Port Elizabeth. Hierdie struik het ‘n baie netjiese voorkoms en vertoon goed as kruidagtige randakkers, in rotstuinholtes of in fynbostuine. Dit kan ook in houers geplant word en dan in ‘n sonnige plekkie in die binnehof geplaas word. Hierdie strukie kan ook as heining geplant word en gereeld gesnoei word. Dit hou van volson en alkaliese goed gedreineerde grond. Die beste tyd om hierdie plante uit te plant in die winterreenvalstreke  is sodra dit in die laatherfs begin reen het en die grondtemperature afgekoel het. Die afgesnyde blomme kan ook gerangskik word saam met ander blomme.

Acmadenia kom van die Griekse woord “acme” wat die hoogste punt beteken. Boegoe kan van saad of steggies geplant word. Vars boegoe kan in die herfs gesaai word. Dit neem ongeveer 1 tot 2 maande om te ontkiem en te begin uitloop. Hou die grond waar dit gesaai word maar klam. Indien hulle begin uitloop, is dit ‘n goeie idee om die boonste puntjies uit te sny om sodoende die plant meer bosagtig te maak.

Geniet u tuin en onthou die rypdoek op u waardevolle boompies en struike.