Tuinsorg in Junie

Tuiniers, dit is ‘n baie stil tyd in ons tuine. Daar is nie eintlik grasperke wat gesny moet word nie, daar is net baie blare om te hark! Gelukkig het ons die moderne suig- en blaasmasjiene wat dit soveel makliker maak. In somerreenvalstreke sal grasperke goed vaar as hul net so elke tweede week goed water te kry.

Dit is nou die tyd om ons sement- en plaveipaadjies van mos en alge skoon te maak, veral in die paadjies wat in skadu en nat omgewings is. ‘n Goeie idee wanneer u dalk besluit om ‘n klippiepaadjie te maak, die plek voor te berei deur onkruiddoder te spuit of om plastiek te lê en dan die klippies te sprei.

Ons kan maar volhou met tuinhigiëne soos om oorblyfsels van ou verrottende of geïnfekteerde plante te verwyder. Dit versprei mos alte maklik na die gesonde plante. Haal ook die plante met virussimptome heeltemal uit en vernietig dit. Kry onkruidbeheer onder die knie, want die onkruid is dikwels die plante wat die plae na ons ander mooi plante toe dra.

Verdeel echeverias en ander vetplante en verwyder die verrotte blare wat geneig is om aan die stele of onder die rosette van die echeverias te sit. Sodra dit gedoen is, hou die plante vir ‘n paar dae droog.

Ons kan nou ook bladwisselende bome en struike snoei. Saai heuningblomme en daar sal heelwat saailinge by kwekerye te kry wees van Primulas, cinerarias en nog ander blommetjies wat nou geplant kan word. Sekere struike soos Coprosma’s en Crotonifolia kan ook nou geplant word.

In die groentetuin kan roket, radyse, beet, en blaarslaai ook gesaai word. Hul sal van oggendson hou. Dit is ook nog nie te laat om nog knoffel te plant nie.

Voed die sitrusbome. Snoei wingerdstokke, perske, peer, pruim en appelkoosbome aan die einde van Junie en dis ‘n goeie idee om dit met kalkswael te spuit. Plant die nuwe wingerdstokke. Ons kan nou ook heerlike sitrusvrugte oral te koop kry. Bemes u papajabome en maak goed nat na die voeding.

Hou gedurende die wintertyd u oë oop vir snywurms op nuutgeplante jaarplante en ook meerjariges. Snywurmruspes voed snag en kruip in die dag net onder die grondoppervlak weg. Krap die grond bietjie los en strooi snywurmlokaas.

Geniet u tuin tot volgende keer.