Al gehoor van die spookagtige struik?

U ken seker hierdie pragtige plant? Yucca is ‘n genus van die meerjarige struike en bome in die familie, Asparagaceae, en subfamilie, Agavoideae.

Daar is 40 tot 50 yucca-spesies wat blom. Daar is ook van hulle wat nie blom nie en omtrent soos lang regop bome vertoon. Hulle maak pragtige fokusplante, veral die blomdraende soort.

Yuccas kom oorspronklik van die warm droë gedeeltes van Noord-Amerika, Sentraal-Amerika en ook nog groot gedeeltes van die wêreld. Hulle kan verwar word met die, “Manihot esculenta”.

Soos genoem, vereis hierdie plante ‘n droë, warm plekkie in die tuin. Hulle is immergroen en het pragtige dik growwe stamme. In sekere gebiede soos die Midde-Weste in Amerika staan hulle bekend as die “spoke van die begraafplaas”. Die plant het hierdie naam gekry omdat die wit trosse blomme wat op die dun stam groei, so spookagtig vertoon het. Daardie mense het gesê dit lyk soos ‘n bewegende, spookagtige verskynsel.

Yuccas word nogal baie in ons eie tuine aangetref. Hulle maak digte groen, skerp gepunte blare aan die stam en dan verskyn die lang stingels met wit trosse blomme wat regtig mooi vertoon. Hierdie skerp gepunte blare is geneig om baie seer te steek indien u per ongeluk aan hulle raak.

Yuccas het ook ‘n spesiale onderlinge bestuiwingstelsel wat deur yucca-motte gedoen word. Hulle dra die stuifmeel van die meeldrade van die een plant na die stigma van die ander plant oor en terselfdertyd lê hulle hul eiers in die blomme. Die motlarwe voed dan op sommige ontwikkelende sade, maar laat altyd saad oorbly vir die voortbestaan van die spesies. Daar is ook altyd ander goggas en insekte wat lief is vir yuccas.

Die meeste yuccas het dik stamme en dit voel ook wasagtig. Dit is om water op te gaar. Hulle kan redelike droogtes weerstaan. Hulle stoor ook water in hulle dik wortelstelsel en sommiges ook in hulle blare. Die blomdraende yuccas se blare is nie so breed soos die ander yuccas nie. Selfs dié wat nie blom nie kan geplant word soos ‘n heining en gee baie privaatheid aan u tuin. Dit is ornamentele plante.

Tuiniers, onthou om maar altyd u hande goed te was nadat u met die plante gewerk het. Dis nou sommer lekker koud, so onthou die rypdoek, hopelik is dit nog nie te laat nie. Geniet u tuin en gaan drink ‘n koppie heerlike Boeretroos in die sonnetjie. Tot volgende keer.