Vir die dames – Verplant Sedums

Ons kan gerus bietjie konsentreer om meer vetplante in ons tuine aan te plant en te kweek. Hulle is oor die algemeen so maklik om te kweek.

U weet mos, daar waar ‘n blaartjie val, groei ‘n plantjie.

Sedums vertoon pragtig in ons tuine veral in rotstuine en sanderige areas. Hulle verkies hierdie sanderige grond wat nie water opgaar nie. Sedums word ook geplant vir hulle kleurryke loof en klein stervormige geel blommetjies wat in die somer verskyn. Hierdie plantjies staan ook as vetkruie bekend. Dit is taai klein plantjies en is immergroen. Sedums word tussen 6 tot 10 duim hoog en sprei 8 tot 12 duim.

Sedums groei maklik en het nie baie water nodig nie. Hulle gaar water in hulle blaartjies op. Daar is verskeie spesies sedums. Hulle groei plat en laag op die grond en is vlesige grondbedekkers. Sedums is ook redelik teen erge winterkoue bestand en is sommer handig om kaal kolletjies hier en daar in die tuin te bedek.

Dit is kleurvolle plante met lang stingels waaraan die blaartjies dig groei. Die plante self is ook baie dig. Dit is maklik om hulle voort te plant met steggies. U sal waarneem dat daar soms waar die takkies aan die grond raak, verskyn naderhand wortels en so kan ons dit net afknip en weer plant.

Onthou tuiniers daar is soveel aalwyne en ander vetplante wat so mooi in ons droë Suid Afrikaanse tuine aard. Ons kan gerus ‘n paar van hulle plant en beloon word met ‘n mooi vertoning in ons tuine. Die aalwyne en sommige vetplante staan reeds pragtig in die blom hierdie tyd van die jaar.

Tuiniers, geniet u tuin en al die rustigheid daarin.