Vir die dames – Lachenalia viridiflora

Lachenalia viridiflora is een van die mooiste herfs en winter blommende bolplante. Dit is in die familie Hyacinthaceae (hiasinte). Hierdie plante is besig om uit te sterf en ons sien hulle nie eintlik in tuine of potte nie. Hierdie plante is die skaarste in hierdie 115 verskillende spesies. Hulle is eie aan Suidwes Afrika en ook Suid Afrika. Dit kom veral voor aan die Kaapse Weskus. Hulle is ‘n bedreigde spesie daar en word uitgeroei deur die vakansie huise wat daargebou word. Indien ons dit nie bewaar nie, sal hul heeltemal uitgeroei word in die volgende dekade.

Lachenalia viridiflora is ‘n klein dwergie plant met ‘n sagte vleesagtige bol. Elke plant het twee groen spiesvormige, lang regop blare wat vanuit die bol groei. Sommige van die blare het donker pers/bruin kolle aan die bokant. Die blomme laat ons aan aalwyne of vuurpyle dink en hul kom in kleure van wit, ligpers en turkois voor. Dit word tussen 80 en 200 mm hoog wanneer hulle in volle blom is. Hierdie blomme is nie aromaties nie en hulle hou tot twee weke vandat dit begin blom. Die plante blom van vroeg Mei tot in Julie en soms langer. Die sade is ‘n droë membraan kapsule met ‘n klomp klein, swart, ronde saadjies wat met ‘n blink saadlagie bedek is.

Hierdie plante is ontdek deur mnr. Harry Hall, ‘n voormalige tuinboukundige van Kirstenbosch. Hy het dit in 1960 aan die Kaapse Weskus gesien. Die spesies is in 1972 beskryf deur die eerste kurator van die “Compton Herbarium” by Kirstenbosch deur mej. W.F. Barker en genoem viridiflora na aanleiding van die turkois kleur van die blomme.

Lachenalia viridiflora groei in volson en in suur groend. Die bolle vorm meer bolle onder die grond en so vermeerder hulle en kan ons die bolle uitplant in massas. Wanneer die temperature begin styg sal die blare begin doodgaan en die sade sal oopspring en die plant sal dormant gaan in die somer.

Dit is maklike plante om te groei en vertoon baie mooi in potte. Die bolle moet vroeg in die herfs geplant word 1-2 cm onder die grond. Sodra hulle in die grond is moet hulle baie goed water kry en dan moet ons hulle los tot die stingeltjies bokant die grond verskyn voordat ons weer water gee. Sade groei ook baie maklik en ontkiem binne 2 – 3 weke.

Ons moet onthou dat plante wat baie naby aanmekaar geplant word, baie vog hou en hierdie spesifieke bolle moet liewer bietjie verder uitmekaar geplant word sodat daar nie fungusse op die plante begin groei nie, dit sal nie oorleef nie. Dit kry ook baie maklik meeldou wat veroorsaak dat die plante disintegreer en lok ook slakke. Verskeie voëltjies is lief om hierdie blomme te besoek en die nektar te drink.

Tuiniers geniet u wintertuin tot volgende keer