Vir die dames – Die Koningsprotea (Protea cynaroides)

Die koningsprotea is ons land se pragtige nasionale blom en word ook die “heuningpot”, “koningsuikerbos” en die “reuse protea” genoem. Elke naam pas perfek by hierdie pragtig blommende struik.

Koningsprotea is in die familie Proteaceae en die rang is Proteales. Hierdie protea kan ook in Ekwatoriaal Afrika, Indië en Suid Asië.gevind word. Die Proteaceae, is ‘n groep van sowat 370 bekende spesies en volgens kenners,  kry hul hul naam van die god Proteus in die Griekse mitologie wat verskillende vorms sou aanneem soos dit hom behaag het.

Dit is so eie aan die Kaapse fynbos en kom wydverspreid in die suidelike en suidwestelike dele van die Wes Kaap voor en in die Oos Kaap tot net oos van Grahamstad.

Proteas het beskerming nodig en daar word beweer dat nagenoeg 120 spesies bedreig word. Ons moet ons fynbos bewaar, dit is so eie aan Suid Afrika en ons kan bosse blomme in die berge daar in die Kaapprovinsie pluk.

Hierdie protea het die grootste blom in die protea familie. Die blom kan tot 30 cm in deursnee wees. Aan die buitekant van die groot blom is stywe, gepunte, smal skutblare wat dit ‘n kelkvorm gee en die onderste gedeelte van hierdie skutblare is roomkleurig of geel en raak helderpienk of fluweelrooi in die boonste helfte van die blaar. Binne in die kelk is ‘n massa van wit meeldrade wat almal na die middel toe neig. Daar is natuurlik verskeie kleure blomme en botaniste het reeds 81 verskillende vorms en kleure geïdentifiseer.

Die koningsprotea kan veldbrande oorleef want dit het ‘n baie dik ondergrondse stam wat dormante uitloopsels het. Hierdie uitloopsels sal bokant die grond begin groei sodra die ou plant doodgebrand het. Dit is ‘n houtagtige struik met dik stamme en groot donkergroen, blink blare. Meeste van hierdie struike word 1 meter hoog wanneer hulle volwasse is. Daar is van hierdie koningsproteas wat so pragtig groei dat hulle tot 10 – 40 blomknoppe dra in een seisoen. Proteablomme lok verskeie voëls na die tuin en hul moet hul bekkies diep by die blom indruk om die nektar te drink en sodoende kleef die stuifmeel aan bekkies en vind daar bestuiwing plaas.

Proteas groei in ‘n omgewing wat droë, warm somers en koue winters het. Hulle blare wat leeragtig en sterk is, help om vog te behou. Die plante het groot wortelstelsels wat diep in die grond groei en sodoende ook vogtigheid bereik.

Ons Kaapse tuiniers kan gerus ‘n koningsprotea plant. Dit verg nie baie aandag nie en u gaan mos met die mooiste blomme beloon word. Die blomme van proteas hou baie lank in water.

Geniet u tuin tot volgende keer