Verkiesingsuitslae skud Britse politiek

Die Konserwatiewe Party van die Britse eerste minister, David Cameron, kan volgens aanduidings in die kussings bly met ‘n meerderheid binne sy bereik.

Cameron sal egter na verwagting steeds ‘n minderheidsregering hê, maar sal sy bondgenootskap waarskynlik verander.

Uitgangspeilings dui daarop dat sy party, wat die afgelope vyf jaar Brittanje in ‘n koalisie met die Liberaal Demokrate regeer het, selfs veld gewen het.

Die Skotse Nasionale Party (SNP) sorg op sy beurt vir die grootste skokke in die verkiesing deur die Skotse Arbeidersparty en die Liberaal Demokrate behoorlik pakslae te gee.

Benewens hierdie "bloedbad," sukkel die Engelse ook om die uitslae van die nasionale verkiesing te verklaar aangesien dit strydig is met die meningspeilings wat vooraf gedoen is.

Die “tektoniese plate het in Skotland geskuif” en dit is “’n geskiedkundige verandering in die politieke opinie,” het die SNP-leier en Skotse eerste minister, Nicola Sturgeon, gesê na aanleiding van die bloedbad waarvoor haar party sorg te midde van rekordhoë uitslae.

Die Arbeidersparty is trouens besig om (bykans) ‘uitgewis’ te word in Skotland soos Sturgeon, vooraf belowe het. 

Die voormalige leier van die SNP en Skotse eerste minister, Alex Salmond, het sy setel gewen en is onderweg na Westminister. Die “Skotse leeu (soos hy ook bekend staan) het gebrul,” word gesê.

Senior lede van die Arbeiders is van die aardbol afgevee soos onder meer die leier van die Skotse Arbeidersparty, Jim Murphy, wat heeltemal uitgeknikker is.

In een van die skokkendste uitslae het ‘n 20-jarige Skotse student, Mhairi Black, van die SNP die Arbeiders se verkiesingshoof en voormalige kabinetsminister, Douglas Alexander, geklop. Sy sal die jongste parlementslid sedert 1667 word.

Hoewel dit dalk tog ietwat te optimisties is, dui die uitgangspeilings daarop dat die SNP 58 van die 59 setels in die Skotse setels in die Britse Laerhuis kan verower.

Die Arbeiders vaar nie net sleg in Skotland nie, maar sukkel ook in Engeland om die nodige setels te verower om ‘n regering te kan vorm. Die leier van die party, Ed Miliband, kan selfs bedank weens die swak vertoning wat sy party gelewer het.

Die Ukip-leier, Nigel Farage, kan waarskynlik ook bedank indien sy party nie na wense vaar nie en hy nie sy setel verower nie.

Volgens die jongste uitgangspeiling sal die Arbeidersparty 239 parlementslede en die Konserwatiewe Party 316 lede parlement toe stuur.

Die Liberaal Demokrate van Nick Clegg se geledere lyk taamlik uitgedun en hy lyk na ‘n verslane man.

Daar kan nog heelwat verrassings wees want die meerderheid van die 650 setels se uitslae moet nog bekend gemaak word.

Afgesien van die nasionale verkiesing in Brittanje is daar intussen ook verkiesings op plaaslike vlak aan die gang en ‘n aantal burgemeesters wat mekaar die stryd aangesê het vir ‘n ampsketting om die nek.

 Foto – David Cameron