Verhuurder kul met staatsgrond

Na ’n dekade is ‘n Johannesburgse sakeman sy hoogs betalende huurinkomste van R1 miljoen per jaar kwyt nadat die Sentraal-Transvaalse regering uiteindelik wakker geskrik het.

Na ‘n ondersoek het die provinsiale regering agtergekom dat hy inderdaad eintlik die reuse stuk grond in die ooste van Johannesburg besit en nie die ondernemende verhuurder, James Wickstrom, nie.

Wickstrom voer aan hy het gemeen hy is die eienaar van die grond omdat die provinsiale regering ingestem het om dit aan hom te verkoop. Op grond van hierdie ooreenkoms het hy glo miljoene rand spandeer om die eiendom te ontwikkel.

Die hele storie kry ‘n verdere bisarre kinkel aangesien Wickstrom ‘n brief wat uit 2009 dateer, uitgehaal het waarin die voormalige Minister van Openbare Werke, Geoff Doidge, dit stel dat die provinsie nooit die magtiging gehad het om staatseiendom te verkoop nie. Voorts word dit uitdruklik gestel dat die betrokke departement die transaksie (om die eiendom te verkoop) as onwettig ag.

Dit is nie duidelik hoe die provinsiale regering steeds na ses jaar nie daarvan bewus was dat die grond inderdaad aan die staat behoort nie en nogtans die munisipale belasting daarvoor betaal het.

Wickstrom voer aan dat hy die openbare beskermer oor die saak genader het omdat die saak dui op “ernstige kwessies van wanadministrasie en misdadige werksaamhede” waarby miljarde rande betrokke is. Hy kon egter nie ‘n verwysingsnommer van ‘n klagte as bewys lewer nie.

Die hele voorval laat vrae ontstaan oor die kwessie of die ANC-regime enigsins naastenby ‘n idee het omtrent watter eiendom wel staatseiendom is.