Veiligheidsfirma moet eis betaal

Die ADT-veiligheidsfirma moet opdok vir die eis van mnr. Eugene van As, die voormalige Uitvoerende Hoof en voorsitter van Sappi wat in sy huis deur boewe aangeval is.

Van As en sy vrou was besig om aandete te nuttig toe drie boewe oor sy heining geklim het en hom in sy woonplek aangerand het.

Die egpaar wat in Hyde Park, Johannesburg woon, het ’n eis teen ADT ingestel en die Hooggeregshof in Pretoria het bevind dat die eis geldig is.

Regter Johan Louw het bevind dat die veiligheidsmaatskappy wel aanspreeklik is vir die skade wat Van As kan bewys.

Die regter het ook bevind dat die maatskappy aanspreeklikheid moet aanvaar weens hul verbreking van die mondelingse ooreenkoms tussen die twee partye.

Van As het gewonder hoekom die aangeskakelde alarm nie afgegaan het nie. Die beheerpaneel in die huis het getoon dit is aan.

Die dag na die aanval het hy bevind die alarmstelsel aan die een kant van die heing, funksioneer nie.

Adv. Pat Ellis SC het namens Van As gesê die heining se alarmstelsel was verkeerd bedraad omdat ADT ’n “brug” in die beheerpaneel in die huis geïnstalleer het wat die indruk op die paneel gewek het dat die stelsel funksioneel is.

Van As eis sowat R1,72miljoen.

Foto – Eugene van As