Skatryk familie aagekla vir diefstal

Johannesburg -. ’n Familie van Italiaanse afkoms wat hulle na bewering skatryk gesteel het oor ’n tydperk van tien jaar deur op onwettige wyse handel te dryf met ongeslypte diamante en platinum, eis eers hulle voorraad platinum ter waarde van R10 miljoen terug voor die verhoor kan begin.

Die “familie-sindikaat” se beweerde hoof brein en sy vyf medebeskuldigdes het vlugtig in die Hooggeregshof van Johannesburg verskyn en staar sowat 60 aanklagte in die gesig.

Die multi-miljoenêr Giandomenico Mugnaioni (70) en ’n voormalige vriendin, Lynette Botha van Kameeldrift, Pretoria asook sy broer, Marcello (57), sy twee seuns Gianluca en Stefano, en sy vriend, Jean-Claude Nicol (70), word saam met hom aangekla.

Die hoofaanklagte van rampokkery spruit uit ’n reeks misdade, waaronder korrupsie en die beweerde diefstal, handel of besit van waardevolle metale en ongeslypte diamante.

Die saak is uitgestel tot November te midde van ’n onafgehandelde mosie-aansoek wat die mans in die appèlhof in Bloemfontein ingedien het.

Giandomenico Mugnaioni beweer dat sowat 30 kg uiters waardevolle metale ter waarde van meer as R10 miljoen, is deur die polisie verwyder tydens hul beslaglegging, eers aan hom terug besorg moet word omdat dit wettig aan hom behoort.

Die familie voer aan dat hulle die metale herwin het by ’n stortingsterrein, maar die polisie het vermoed dat die metale wat verwerk word, by verskeie platinummyne gesteel is.

Die polisie se deurbraak het begin toe Botha wat ’n verhouding met ’n polisiebeampte het, probeer het om hom om te koop vir inligting oor die ondersoek na Mario Mugnaioni.

Die polisie het glo ’n strik gestel vir Botha deur ’n speurder as korrup aan haar voor te stel.

Intussen het kundiges die goedere waarop beslag gelê is, behoorlik ontleed en bevind dat die beweerde stortingsterrein onaktief is en dat die materiaal van myne bekom is waaronder Lonmin, Impala en Northam.