Selfone oorsaak van padongelukke

 

Te veel mense oortree die wet en gebruik ’n selfoon terwyl hulle teen redelike hoë snelhede ry op besige paaie en strate.

Dit is die bevinding van ’n versekeringsmaatskappy wat intensiewe navorsing gedoen het oor ongelukke, en het bevind dat sowat 25% van padongelukke veroorsaak is weens die gebruik van ’n selfoon terwyl die motor bestuur is.

Die maatskappy het bevind dat mense dikwels ’n boodskap tik terwyl hulle bestuur, en dit kan meebring dat hulle oe vir minstens 30 sekondes tot 60 sekondes nie op die pad is nie.

In praktyk beteken dit dat ’n persoon in swaar verkeer, vir ’n minuut lank geblinddoek bestuur, wat natuurlik noodlottig kan wees.

Die maatskappy het oor ’n tydperk van maande, meer as 70,000 motorbestuurders se gewoontes agter die stuur van ’n voertuig gevolg.

Volgens die bevinding is alle motorbestuurders skuldig en gebruik hulle ’n selfoon terwyl hulle bestuur, maar slegs 40% het ’n handvry toestel, en slegs 20% van hulle maak wel gebruik daarvan.

Mense wat hulle selfone gebruik terwyl hulle bestuur, ruk en pluk aan die stuur om die motor per geleentheid weer in die regte baan te kry, hulle ry stadiger en blokkeer die verkeer, en wil dan as hulle klaar is met die foon, weer teen ’n onrealistiese spoed versnel om verlore tyd in te haal.

Die versekeringsmaatskappy het bevind dat die motorbestuurder kwalik terug op “normale” bestuurstyl is, dan raas die selfoon weer vir ’n volgende boodskap of oproep, en die motoris herhaal die vorige prosedure.

Statistieke wat in 2012 vrygestel is, dui daarop dat meer as 17,000 mense in motorongelukke omgekom het op Suid-Afrikaanse paaie, en daarvan was 3,000 jong kinders.

Ongeveer dieselfde aantal mense sterf in motorongelukke elke jaar, as wat vermoor word in die land.