Pres. Zuma sal moet antwoord

Pres. Jacob Zuma moet teen 8 Mei reageer op klagte van haatspraak wat die Menseregtekommissie (MRK) teen hom ondersoek na sy uitlatings oor Jan van Riebeeck in Januarie vanjaar, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder.

Die VF Plus het pres. Zuma by die MRK verkla kort nadat hy die uitsprake gemaak het en het aangevoer dat dit op haatspraak teenoor wit mense neerkom.

Pres. Zuma het onder meer gesê die land se probleme het begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika, en dat talle stryde, oorloë, sterftes, die gryp van grond en die ontneming van die inheemse mense se politieke en ekonomiese mag, daarop gevolg het.

Adv. Alberts het in sy klag aan die MRK aangevoer die VF Plus is van mening dat die uitsprake op ʼn rassebasis polariserend, en grof beledigend teenoor alle wit mense in die land is.

Alberts sê die gewraakte uitlatings kom op haatspraak neer omdat wit mense die sondebok gemaak word vir alles wat in die land verkeerd geloop het sedert 1652.

“Indien daar objektief na die meriete van die VF Plus se klagte gekyk word, het ons geen twyfel nie dat daar wel bevind sal word dat dit aan haatspraak grens. Intussen glo ons die president sal voortaan twee keer dink voordat hy enige wilde uitlating maak,” sê adv. Alberts.

Foto – Adv. Alberts