Plaasmoord kos R5 miljoen en meer

Elke plaasmoord kos die ekonomie nou enigiets tussen R3 miljoen en R5 miljoen en dit kan selfs meer wees afhangende van verskillende faktore.

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SACCI) het in 2010 bereken dat as ‘n boerdery heeltemal weens ‘n moord op ‘n boer verlore gaan dan kos dit die Suid-Afrikaanse ekonomie meer as R1,9 miljoen. Sou die plaas  slegs vir ’n tydperk ná ’n aanval of moord nie produktief wees nie, sal sowat R160 000 per plaas per maand verlore gaan.

Etlike aspekte is egter nie deur SACCI verreken nie, hieronder tel die produksievermoë van boerderye, werksekerheid, die plaaslike voedselbedryf, die sektor se vermoë om internasionaal mededingend te wees en die verskillende tipes plase en boerderybedrywe.

Hierdie syfers is nou hoër sê die operasionele bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), dr. Jack Armour, want volgens statistiek het die waarde van kommersiële landbougrond die afgelope paar jaar met tussen 10% en 15% per jaar gestyg. Indien net hierdie styging inaggeneem word, kan die verlies van ‘n boer die ekonomie nou tussen R3 tot 5 miljoen kos, Dit kan egter verder styg indien al die ander faktore verreken word, meen hy.

Volgens VL se Veiligheidslessenaar het 31 voorvalle van geweld op plase tydens die eerste drie maande van vanjaar voorgekom, waarvan 20 plaasaanvalle was en 9 moorde is gepleeg.

Dit beteken dat Suid-Afrika weens hierdie geweldpleging in die Vrystaat reeds R21 miljoen se inkomste kon verloor het, is gesê.