Op die Volksakker – Vreemdelingehaat dwing ons tot vryheid

Die media is eensklaps vol allerlei regerings-advertensies teen vreemdelingehaat.

Verskeie bekendes spreek hulle openlik uit daarteen.

Selfs SANRAL se elektroniese kennisgewingsborde verkondig dat die agentskap én die Departement van Vervoer vreemdelingehaat veroordeel.

En die noodwendige vraag is waarom hierdie stortvloed van standpunte teen vreemdelingehaat, terwyl slegs enkele duisende standpunt inneem teen die volksmoord waaronder ons mense reeds meer as 20 jaar gebuk gaan?

Dit is verder opmerklik dat ´n toenemende aantal mense wat wel van die volksmoord melding maak, dit beskou as blote misdaad, in napratery van die regime.

Ons moet egter die groter prentjie sien agter die toestande in ons land en die uitlatings van ANC-swaargewigte en ander swart rewolusionêres:

die “struggle”-boodskap van blanke onderdrukking word steeds onverpoos verkondig;

die waarheid rondom korrupsie en nepotisme word doodgesmoor onder “die nalatenskap van apartheid”;

ons geskiedenis word blatant verdraai.

Die lysie kan aangevul word en ons herken elke punt, maar sien ons die groter prentjie vir wat dit is?

Die web van leuens en propaganda is afgestem op die plaas van blaam.

Die sukses daarvan kan gesien word in die sinnelose geweld van swart-op-blank. 

Daardie boodskap word versterk deur diegene (uit voorheen eie geledere) wat steeds krampagtig “versoening” en “samewerking” bepleit, terwyl hul inderwaarheid belange-politiek bedryf.

En blaam is die sleutel:

in ´n kultuur van wraak en weerwraak skep dit ´n vals regverdiging vir enige optrede van diefstal (“neem terug wat ontneem is”) tot aanvalle op die persoon van ons volksgenote vir die versinde geweld teen hul voorsate.

Daarom is die vreemdelingehaat ook vir ons ´n waarskuwingslig.

Indien eertydse “struggle”-bondgenote met soveel haat en selfvernietigende onkunde geweld aangedoen word, hoeveel erger moet nog teen ons volk gepleeg word voordat mense opstaan en saamstaan vir vryheid?