Nuwe griepentstof nou beskikbaar

Die belangrikheid om voorkomende maatreëls te tref teen griep, is vanjaar meer belangrik as in die verlede, en mense met chroniese siektetoestande, swanger vroue, skoolgaande kinders, moet werklik seker maak dat hulle ingespuit is.

Netcare sê dit is vanjaar baie belangrik dat mense hulleself vanjaar sal beveilig teen griep deur betyds ingeënt te word.

Die nuwe entstof is reeds beskikbaar in Suid-Afrika.

Die noordelike halfrond van die aarde het vanjaar die ergste uitbreking van griep gehad wat nog ooit beleef is, en daarom moet mense hulle gereed maak om betyds ingeënt te word.

Die griep is so erg in ander lande, dat talle mense, en veral jong kinders, die aanvalle nie oorleef het nie. In Amerika is meer as 30 jong kinders vanjaar dood weens griep, en in Europa was dit eens so erg.

Entstof wat tot onlangs gebruik is, het twee tipes van die virus nie beheer nie, en derhalwe moes navorsers dringend kyk na nuwe moontlikhede.

Die nuwe entstof wat nou op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is, dek ook die twee virusse. Die entstof moes reeds etlike weke gelede in die land aangekom het. Maar met die nuwe ontwikkeling en verbetering van die entstof, is aflewering met twee weke vertraag.

Dit is belangrik dat ouer mense, bokant 60 jaar, betyds ingeënt word, asook mense met longkwale en diabetes moet seker maak dat hulle geïmmuniseer is.

Daar is egter ook mense wat nie ingeënt moet word nie, veral as hulle allergies is vir eier-produkte, hoenderproteïen, en mense wat met vorige inentings ongewenste reaksies ervaar het.

Mense moet ook seker maak dat hulle nie koorsig is, of enige ernstige siektetoestand het wanneer hulle vir inenting gaan nie.