Nog terminaal siekes vra genadedood

Kort nadat die hof ’n uitspraak gelewer het op die versoek van ’n kankerlyer, adv. Robin Stransham-Ford, dat hy wel kwalifiseer vir ’n vorm van genadedood, het nog verskeie ander terminaal siek persone gevra vir genadedood.

Drie gevalle is aangeteken van terminaal siek mense wat nou vra vir dat genadedood toegepas word op hulle, of dat hulle moontlik voorsien kan word van ’n uiters dodelike middel wat sal help om hulle lewens te beëindig.

’n Woordvoerder van Dignity SA sê al drie persone het hofaansoeke ingedien, maar is nie op ’n dringende basis nie soos dié van die advokaat nie.

Stransham-Ford (65) het verlede week ’n dringende aansoek na die hof geneem, maar is oorlede voordat die hofbevel van krag was.

Dignity SA was betrokke by Stransham-Ford se aansoek.

Die drie mense wat nou aansoek doen om genadedood, het blykbaar ’n verwagte lewensduur van sowat ses maande.