Nie Kubane nie, wel Italianers vir O-Tvl

Oos-Transvaal gaan glo ’n klomp Italianers invoer om die Kubane van die provinsie by te staan as dokters om die ernstige tekort aan te vul.

Premier David Mabuza het bekend gemaak dat die nuwe plan op die tafel is, want in die Italiaanse Puglia-gebied kwalifiseer ongeveer 350 dokters elke jaar, en kan dien as voedingsbron vir Suid-Afrika se tekort.

Hy reken dat daar van hulle is wat bereid sal wees om in Oos-Transvaal te kom werk.

Mabuza het glo in Italië verskeie ooreenkomste vir samewerking met verskillende streeksregerings aangegaan, en hy meen dokters kan gewerf word om die Kubane by te staan en sal dan deel vorm van die sogenaamde nasionale projek waarin Kubane as dokters gewerf word.

Hy reken ook dat die moontlikheid bestaan dat die provinsie van sy studente na Italië kan stuur vir mediese opleiding aangesien hy baie beïndruk is met die gehalte van opleiding wat gebied word.

Hy beweer dat ’n hospitaal in Puglia wat van dieselfde grote is as die Rob Ferreira in Nelspruit, gebruik maak van sowat 800 dokters terwyl Nelspruit slegs 40 dokters in die hospitaal het.

Foto – Premier David Mabuza