Munisipaliteit betaal regskoste van aangeklaagdes

Dit het op die lappe gekom dat die regskoste van ‘n voormalige burgemeester en ‘n finansiële bestuurder betaal word deur die einste Vrystaatse munisipaliteit waar hulle na bewering tenderbedrog gepleeg het.

Altwee is deesdae LUR’e in premier Ace Magashule se provinsiale kabinet.

Hulle staan saam met sewe ander munisipale amptenare tereg op ‘n 100 aanklagte van tenderbedrog en korrupsie wat gepleeg is om onder meer fotostaatmasjiene aan te koop vir die munisipaliteit waaronder Welkom en Virginia, Odendaalsrus, Allanridge Ventersburg en Hennenman (deesdae Matjhabeng genoem) val.

Die voormalige burgemeester, Mathabo Leeto is nou die LUR vir Sport, Kuns en Kultuur en die voormalige munisipale bestuurder, Benny Malakoane, is tans die LUR vir Gesondheid.

Die finansiële krisis waarmee die munisipaliteit al vir jare spartel, is kort-kort in die nuus weens wanbestuur, korrupsie en bedrog asook wanbetalings aan Eskom en die Waterraad.