Middelburg maak hulle harte oop

Middelburg -. Die mense in die Oos-Transvaal het nie net hulle harte nie, maar ook hulle hand en beursie oopgemaak vir ’n egpaar wat nie oor ’n mediese fonds beskik nie, en moes instaan vir groot koste met hulle 18 maande oue seuntjie wat byna verdrink het.

’n Misverstand tussen ouers het daartoe gelei dat die klein Aiden by die huis se agterdeur uitgeglip het en in die swembad beland het

Toe ma van die winkel terugkom, en pa onbewus van wat met sy seuntjie gebeur, begin soek na hom, was dit een geweldige skok om hom nie in die huis te vind nie.

Die knapie is woelig, en gewoonlik bly die buitedeure dig, maar die dag was daar ’n glips.

Pa het gedink Ma het hom saam winkels toe.

Uiteindelik vind hulle hom, gesiggie na onder in die swembad. Die paramedici kom haastig help, en hulle slaag om hom weer te laat asemhaal, maar kort daarna is hy per helikopter na die Garden City-kliniek en pa moet betaal met geld wat hy nie het nie.

Iemand kom blitsvinnig na vore en bied aan om die vliegtuig rit te betaal, ’n ander sal die hospitaalrekening vereffen, en vir die daaropvolgende drie dae word die knapie met sorg behandel in die hospitaal waar hy eers in ’n geïnduseerde koma gesit word om aan te sterk.