Lewenstyl bepaal ‘n lang lewe

‘n Studie wat oor ‘n tydperk van ‘n halwe eeu deur Sweedse navorsers gedoen is, het ‘n paar sleutelgeheime omtrent langlewendheid openbaar.

Die gesondheid van 855 mans wat in 1913 gebore is, is gevolg om te bepaal waaraan ‘n lang en gesonde lewe toegeskryf kan word. Die mans, waarvan tien die mylpaal van ʼn honderd jaar bereik het, is op die ouderdomme 54, 60, 65, 75, 80 en 100 beoordeel.

Dr. Lars Wilhelmsen wat al die afgelope 50 jaar by die studie betrokke is se raad aan diegene wat honderd jaar wil word, is om rook te vermy, gesonde cholesterol-vlakke te handhaaf en hulle tot vier koppies koffie per dag te beperk.

Maar navorsers het onthul dat langlewendheid aan moederskant, eerder as aan vaderskant, ‘n baie belangrike bydraende faktor is om honderd jaar oud te word.

Dit is ten volle in ooreenstemming met die bevindinge van vorige studies, sê dr. Wilhelmsen.

Maar genetiese oorwegings is swakker as ander faktore en lewenstylkeuses is belangriker vir diegene wat ‘n hoë ouderdom wil bereik.

Van die hele toetsgroep het 232 mans tot hul 80ste lewensjaar geleef en 111 van hulle het hulle 90ste verjaarsdag gevier.

Van die sterftes wat voorgekom het nadat die deelnemers 80 jaar geword het, was hartsiektes vir 42% verantwoordelik, 20% sterftes is deur infeksies veroorsaak, 8% deur beroerte, 8% deur kanker en 6% deur longontsteking en 16% aan onbekende oorsake.