Koeksister vervleg met kuns en tegnologie

‘n Baie tradisionele Afrikaner-simbool, die koeksister, het ‘n kreatiewe en moderne rol gekry om te vervul. En dit nogal in ‘n tyd waarin gedenktekens, veral dié omtrent die Afrikaner-geskiedenis die teiken van vandale is.

‘n Betonbank in die vorm van ‘n koeksister is reg voor die trappe tot die ingang van die Voortrekkermonument geplaas.

Die ligging is dan ook spesifiek gekies om besoekers aan die monument die geleentheid te gee om ‘n selfportret (‘selfie’) te neem met die monument op die agtergrond.

‘n Pretoriase argitek, Pieter Mathews, is die ontwerper daarvan en het inspirasie vir sy bankie gekry uit daardie Afrikaner-ikoon, die koeksister.

Die koeksister bankie is een van tien bankies wat deur ‘n groep beeldhouers, argitekte en kunstenaars ontwerp is as deel van die samewerking tussen die sementvervaardiger PPC, Business and Arts South Africa (Basa) en Cool Capital.

Mathews is ook die sameroeper van die Cool Capital-biënnale wat verlede jaar in Pretoria begin het.

Hierdie is dan ook die eerste selfie-bankie in die hoofstad. Dié sitplek is inderdaad ‘n kombinasie van kuns en argitektuur.