Geskorste seniors in SAID bedank

Die geskorste adjunk-kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Ivan Pillay en Peter Richer, die geskorste groephoof van risiko en beplanning, het onverwags hulle bedankings ingedien met onmiddellike effek.

Die SAID het in ’n verklaring gesê die bedankings is aanvaar en die uittrede van beide amptenare het op ’n vriendskaplike basis plaasgevind.

Pillay en Richer is bedank vir hulle jare lange diens en word sukses toegewens met hulle planne vir die toekoms.

Volgens ’n woordvoerder is alle klagtes en ondersoeke teen die twee amptenare teruggetrek.

Politieke ontleders wys daarop dat die onverwagse bedankings daarop dui dat ’n skikking tussen die partye bereik is, alhoewel daar geen aanduiding is dat skeidingspakkette aangebied is nie, kan dit aanvaar word dat goue handdrukke gegee is.

Die Adjunk president, Cyril Ramaphosa het glo die transaksie tussen Pillay en Moyane hanteer waarvolgens Pillay blykbaar R6 miljoen sou ontvang ter afsluiting van sy kontrak.

Foto – Ivan Pillay