Endofaun-dieretuin in haglike toestand

’n Groep wat bekend staan as die Ban Animal Trading se afdeling, Endofaun-dieretuin, wat ’n lid is van die Pan-Afrika vereniging vir dieretuine, naby Bapsfontein aan die Oos-Rand, word nou deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ondersoek.

Blykbaar is die diere wat by die dieretuin aangehou word, in ’n uiters swak toestand en leef in haglike omstandighede.

Volgens ’n verklaring wat deur die DBV uitgereik is, is die Ban Animal Trading-groep se dieretuin deur inspekteurs besoek maar is toegang tot die dieretuin geweier.

Jimmy Magill, die eienaar van die dieretuin, het die DBV-inspekteurs genoodsaak om ’n lasbrief te bekom om sodoende die perseel te betree vir hulle ondersoek.

Die DBV se inspekteurs het meerkatte, muishonde, muskeljaatkatte en kleiner knaagdiere, asook slange gekry wat in vuil hokke aangehou word.

Die hokke en kosbakke is sorgwekkend vuil gevind, en dit blyk dat dit vir maande nie skoongemaak is nie.

Van die diere het weens die haglike toestande, brandsiekte gekry, terwyl ander onbehandelde beserings het en ander het asemhalingsprobleme.

Van die slange het nie water nie, kry kwalik vars lug weens swak ventilasie en swak beligting.

Die DBV is glo in proses om die dieretuin aan te kla, wat vooraf gegaan is met ’n waarskuwing wat uitgreik is om die oorblywende diere behoorlik te versorg en die hokke skoon te hou.

Die diere moet ook in groter hokke aangehou word.