Elfjarige leef, Departement sê anders

Mev. Claudine van Staden van Pretoria moes tot haar ontsteltenis ontdek dat haar seun, Damian (11) volgens die Departement van Binnelandse Sake, nie bestaan nie.

Sy het aansoek gedoen vir ’n onverkorte geboortesertifikaat om haar seun saam met haar te neem wanneer hulle verhuis na Thailand.

Alhoewel sy beskik oor ’n paspoort vir haar seun, bestaan hy nie vir die Departement nie, en dit veroorsaak ’n ernstige krisis want sy moet aansoek doen vir haar seun se visum. Hulle moet die einde van Mei vertrek want sy het ’n onderwyspos in die land aanvaar.

Dit blyk egter dat sy nie die enigste is wat met die probleem opgesaal sit nie, en dit laat die indruk dat die Departement Binnelandse Sake se inligting en databank in ’n chaotiese toestand verkeer.

Adri Kotze-Campbell wat in Londen woon sukkel reeds meer as ses jaar om ’n onverkorte geboortesertifikaat te bekom vir haar twee seuns wat onderskeidelik 9 en 12 jaar oud is.

In Port Elizabeth en in Kaapstad is soortgelyke gevalle blykbaar ook gevind van kinders in die ouderdom tussen 9 en 12 jaar wat net nie op die Departement se stelsel is nie.

Intussen is nuwe regulasies van krag dat minderjarige kinders nie die land mag verlaat sonder ’n onverkorte geboortesertifikaat nie.

Waarnemers sê dit blyk of die Departement sekere data verloor het, en nooit enige poging aangewend het om dit onder gesaghebbendes se aandag te bring nie.

“Dit maak die deur oop vir ’n geweldige groot bedrogspul”, is gesê.

Mayihlome Tshwete, ’n woordvoerder van die Departement, wil nie erken dat daar ’n ernstige, en wyd verspreide probleem is nie en sê duisende mense doen aansoek vir sulke dokumente sonder enige probleem.