Balju besoek Pretoria munisipaliteit

Die burgemeester van Pretoria, ene Kgosientso Ramokgopa, se pleidooi het niks gehelp toe die balju beslag gelê het op meubels en ander ware omdat die munisipaliteit in gebreke gebly het om sy skulde te vereffen.

Die balju het beslag gelê op die goedere om ’n onbetaalde rekening van R316,000 vereffen te kry.

Onbevestigde berigte lui dat kantoormeubels uitgedra is en op die straatkant uitgestal is vir elke verbyganger om te sien die balju het toegeslaan.

Die Raad het egter hewig ontken dat meubels uitgedra was, maar het erken dat die balju onverskrokke beslag gelê het op kantoor toerusting.

Blykbaar het paniek ontstaan toe beslag gelê is op rekenaars.

Blykbaar het ’n voormalige regsverteenwoordiger van die munisipaliteit ’n eis van sowat R200,000 ingestel vir dienste gelewer, wat nie vereffen is nie.

Die munisipaliteit staan egter die eis teen en wil ook ’n klag indien by die Prokureursorde.

Ander skuldeisers beweer dat hulle maande lank sukkel om rekenings betaal te kry.

Talle eise het ontstaan as gevolg van die munisipaliteit se optrede deur ondernemings sêkrag verkeerdelik af te sny, tesame met die regskoste wat aangegaan is.

Foto – Kgosientso Ramokgopa