Afrikaanse skole bly hoofteiken

Die soeke na beskikbare plek by skole moet na alle skole in die provinsie uitgebrei word, meen die Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Alhoewel Sentraal-Transvaal se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, die versekering gegee het dat sy ondersoek bloot handel oor beskikbare kapasiteit by skole, is dit tog vreemd dat ‘n gelekte dokument daarop dui dat slegs Afrikaans-enkelmedium skole hieromtrent ondersoek word, sê die adjunkhoof van Fedsas, dr. Jaco Deacon.

Hy het namens Fedsas Lesufi versoek dat die ondersoek na alle skole in die provinsie uitgebrei word.

Lesufi het vroeër aan die media gemeld dat ‘n sogenaamde taakspan 28 enkelmedium skole geïdentifiseer het wat volgens sy mening onderbenut word. Hy wou egter nie sê watter skole op die lys is nie, maar het darem toegegee dat dit Afrikaanse skole insluit wat moontlik na parallelmedium sal moet oorskakel as hy sy sin kry.

Hy het volhard met die storie dat daar nie geld is om skole te bou nie terwyl daar jaarliks al hoe meer mense na die provinsie stroom.

Die druk op Afrikaanse skole in Gauteng om as ʼn sogenaamde besparingsmaatreël hul deure vir Engelssprekendes oop te maak en sodoende dubbelmedium te word, het niks met geld te make nie, het die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys en provinsiale leier in Sentraal-Transvaal, adv. Anton Alberts, onlangs in ‘n mediaverklaring gesê.

Hy het daarop gewys dat Lesufi se uitsprake dat Afrikaanse skole ‘onderbenut’ is en met leë klaskamers staan terwyl die departement nie geld het om ekstra skole te bou nie, is ʼn oneerlike rookskerm om Afrikaans uit skole te dwing aangesien die onderwysdepartement verreweg die grootste deel van dié provinsie se begroting kry.

Hy sê Sentraal-Transvaal se LUR vir finansies, Barbara Creezy, het altesame R42,2 miljard van Gauteng se totale begroting van R95,3 miljard aan onderwys toegeken. Hiervan is R2,6 miljard vir die ‘uitbouing van infrastruktuur’ juis om voorsiening te maak vir die groeiende aantal leerlinge, het Creezy in haar toespraak gesê.

“Hy kry bykans 45% van Gauteng se totale begroting, en byna R3 miljard net vir infrastruktuur. Dan wil hy ʼn hele provinsie se skole verengels net oor die bewering dat ʼn paar klaskamers dalk leegstaan?

Dit is duidelik dat Lesufi Afrikaanse skole teiken as deel van die groter politieke veldtog wat die ANC op elke terrein, en in besonder in die onderwys, teen Afrikaans voer,” sê adv. Alberts.