Vir die Dames – Vuurpyle / Kniphofia uvaria

Tuiniers hierdie plante is darem een van die pragtigste blommende plante in ons herfstuine. Ja, meeste spesies blom in die herfs en dit vorm baie mooi fokuspunte in ons tuine. Sommige vuurpyle blom gedurende die groeiseisoen. Vuurpyle is in die familie Xanthorrhoeaceae en die subfamilie is Asphodeloideae en die genus is Kniphofia en in hierdie geval is die spesie K.uvaria.

Kniphofia uvaria staan ook as “Red Hot Poker” bekend as gevolg van die vorm en kleur van die blomme. In ons volksmond ken ons hulle egter net as vuurpyle en dit pas nogeens pragtig by die vorm en kleur van die blom. Gewoonlik is die blom helder oranje/rooi aan die bokant en dan geel na onder en dan lyk die onderste gedeelte van die blom soos bruin baard. Die blomme kom aan die bopunt van sterk lang groen stingels voor. Hierdie stingel met die blom aan die bopunt kan tot 1,5 meter hoog word. Die blare van die plant is lelie-agtig en lank en dun en hierdie plant maak ‘n redelike groot bos.

Kniphofia uvaria kom oorspronklik uit die Kaap en is al versprei na baie dele van die wêreld. In sekere lande het die vuurpyl so vinnig en wyd versprei dat hy nou as ‘n onkruid geklassifiseer is. Die genus Kniphofia was vernoem ter ere van Johannes Hieronymus Kniphof wat ‘n professor in medisyne in Duitsland was in 1704 – 1763 . Die Asphodelaceae familie, waarvan die vuurpyl een is, bevat 17 genera en 10 van hulle kom in Suid Afrika voor. Die genus Kniphofia is verwant aan die aalwyn familie waarvan die blomme ons baie goed aan mekaar herinner.

Die meeste vuurpyle is immergroen en sommige gaan dormant gedurende die winter. Hulle groei weer vanself uit in die vroeë somer. Die plante het ‘n redelike groot wortelstelsel en die blare van die plant spruit direk vanuit die knol bokant die grond uit.

Vuurpyle groei in goed dreinerende ryk grond en kan in volson of halfskadu geplant word. Hulle hou van baie water in die groei seisoen en sal nie goed blom as hul te min kry nie. Volgens sekere bronne moet ons die plante vir ‘n paar jaar nie steur deur hulle uit te plant of van die risome af te haal en weer te plant nie. Hul kan ook met saad voortgeplant word maar dit neem regtig nogal lank vir die saad om te ontkiem. Bye, skoenlappers en suikerbekkies geniet hierdie blomme met die baie pypies vol nektar sommer baie.

Tuiniers in Suid Afrika kan darem spog met pragtige plante in ons tuine en ons het ‘n redelike klimaat wat baie verskillende plante goedgesind is. Geniet u tuin tot volgende keer.