Iets oor roosmaryn

Psssst, het jy gehoor wat sê die slimmes van: roosmaryn?

Roosmaryn is ‘n Mediterreense krui wat maklik is om self te kweek. Dis ‘n mooi plant met ‘n heerlike geur en blou blommetjies. Dis ook een van die oudste krui en sy gebruike is al vir jare aangeteken. Dit was in die Bybelse tyd gesien as n heilige krui en daar is baie legendes rondom roosmaryn.

In en om die huis: maak ‘n goeie insekdoder en ruik  heerlik in potpouri. Die stingels kan in die kaste geplaas word om die linne ‘n heerlike vars reuk te gee. Wat ook heerlik werk is om roosmaryn te gooi rondom kos op die tafels en om braaivleis vuur te gooi om insekte weg te hou.

Kosmeties: Die krui is wonderlik as haarspoelmiddel en veg teen velekseem op die kop en help hare wat uitval, stop te sit deur die kopvel te stimuleer.  Gooi ‘n paar takkies in ‘n pot en kook vir 30 minute. Laat die mengsel afkoel, gooi dit deur ‘n lappie en gebruik die vloeistof deur dit op die kopvel te spuit en lekker in te masseer. Hou die mengsel in die yskas en gebruik gereeld.

Medisinaal: roosmaryn word al jare gebruik vir bloeddrukprobleme. Die krui het die vermoë om hoë en lae bloeddruk te balanseer en ook te help vir kopseer en hartkwale. Die blomtoppe kan in ‘n vars koppie kookwater getrek word en deur ‘n lappie gegooi word. Versoet die mengsel met heuning en drink soggens en saans van dit. Die mengsel versterk mense na fisiese en geestesspanning.

Kos: Dit het ‘n baie sterk geur en moenie in oormaat gebruik word in ‘n dis nie, dit gaan heerlik saam met lamsvleis- en tamatiedisse. Dis ook heerlik saam met vars slaaie en vrugteslaai.

Aartappels gebak met roosmaryn

6 aartappels in wiggies gesny

2 takkies Roosmaryn

Growwe see sout

Olyf olie

Sprinkel aartappels met olyf olie en growwe sout en gooi gebreekte roosmaryn takkies oral op en om aartappels. Bak tot gaar en goudbruin.