Hospitaal maak dit gerieflik vir ouers

Kaapstad – Die Rooi Kruis-kinderhospitaal het onlangs uitbreidings ter waarde van meer as R7 miljoen aangegaan om die verblyf van ouers moontlik te maak wanneer hulle kinders in die hospitaal opgeneem is.

’n Woordvoerder van die hospitaal sê die inrigting hospitaliseer kinders vanoor die land, en daarom is dit belangrik dat die ouers, wat 24 uur per dag toegang het tot hulle kinders, bekostigbare verblyf moet hè.

Spencer McNally, die voorsitter van die Kinderhospitaal se trust, het tydens die bekendstelling van die uitbreidings gesê dat nuwe badkamers, 18 bykomende beddens en ’n kombuis vorm deel van die verbeterings terwyl etes ook aan die inwonende ouers verskaf word.

Die hospitaal kan nou ’n aangename en gerieflike verblyf voorsien aan 80 ouers wat van buite die Moederstad afkomstig is.

Foto – Rooikruis-hospitaal